Die Vlakte Bonsmarastudiegroep bestaan uit ’n stuk of 18 lede, waarvan nege stoettelers is. Van die begin af het die groep ten doel gehad om ernstige kommersiële telers saam te snoer en daarna saam te groei en genetiese vooruitgang na te streef, om oor tyd meerderwaardige Bonsmaragenetika aan die bedryf beskikbaar te stel. Aanvanklik, sê André van der Heyde, het hulle hoofsaaklik gepoog om aangepaste diere vir die Bosveld-omgewing in die Limpopo-provinsie te teel en te selekteer, maar daardie mikpunt het mettertyd verskuif na die hele land. “Ons vind dat diere wat in ons omgewing aangepas is, die vermoë besit om eintlik op enige plek in die land van krag tot krag te gaan. Ons lede boer oor ’n redelike wye gebied wat soet en suur bosveld insluit. Die gebied strek van Roedtan in die noorde, tot by Settlers in die suide.